Mooi ry

Ons is nou op die stadium waar leerlinglisensies en bestuurderslisensie omtrent alle gesprekke in ons huis oorheers. En daar word skielik gráág skool toe gery. Die normaalweg geduldige Pappa se tande is net so bles soos sy kop en die opvlieënde Mamma is skielik die rustigheid vanself. Ek is selfs rustiger as wanneer ek, wat al oor die 30 jaar ‘n lisensie het, self bestuur.

My Ma het altyd vertel met watter karretjie sy haar lisensie in haar laat twintigerjare gekry het. Een van daai Fiatjies wat nou weer so in die mode is. Met ‘n baie klein enjin wat gemaak het dat die ou karretjie net-net vorentoe beweeg het. Dié een se naam was glo Fielies. My Pa het glo sommer so met die trekker op die plaas geleer. Hy het ook later jare, tot voor my geboorte, “rally” gery. Sommer so met my ma se broer wat genavigeer het. In die week is hy werk toe met die Volla en naweke het hy alte lekker ge-“rally”. Ek en Christél het beide met Ma se Golf GTS geleer! Daardie jare was dit ‘n willewragtag van ‘n karretjie en ons moes ons storie ken om hom op die pad te hou.

Ek het eerste geleer. Liewe Pa moes my leer. En hy was ‘n ingenieur in murg en been. Ek het eers klas gehad in die relatiwiteitsteorie, energieverplasing, banddruk, enjinrevolusies, tru-spiëel, koppelaar en flikkerligte. Daarna het ons dit eers op die pad gewaag. Nadat ek al sy vrae sonder huiwering kon beantwoord.

Die eerste ryles was laatmiddag. Pa trek die kar uit die garage uit en parkeer aan die kant van die pad. Ek moet ry in die stopstraat se rigting, seker so 20m van ons huis af. Die pad het ‘n helling gehad van ongeveer 2° tot by die stopstraat. Ek het alles wat ek oor die vorige paar weke geleer het toegepas maar kon nie die verdomde kar verder kry as waar hy geparkeer gestaan het nie. Pa was die geduld vanself. En ek het gesweet en binnetoe geswets. Skielik trek ons met ‘n vaart weg sodat ek amper die stopteken onderstebo ry en dis tóé dat liewe Pa se geduld opraak. “Nee magtag man, jy sal ons mos verongeluk!” is al wat hy uitkry en net daar besluit ek dis nou genoeg. Ek sit die kar af, klim uit en stap die 20m terug huis toe. Dit het mooipraat en sagte dreigemente gekos om my weer agter die stuurwiel te kry!

Ek het sommer vir Christél geleer. Ons het natuurlik meer gelag as enige iets anders maar dit was lekker om die ousus-ding te doen. Sy hoef ook nie eers al die inligting wat ek moes weergee, geleer het nie!

Ek wens altyd ek het Duncan se Ouma se “insig” in bestuur gehad – sy het op ‘n baie laat tyd in haar lewe eers leer bestuur en toe sy gevra word of sy darem weet wat om te doen, was haar antwoord: “Aaaag dis maklik. Trap die kluts, los die klots en daar gaat jy!”
essay writing service

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>