Juffrou San

Vandag is my hart seer. Vroegoggend krap ek op Facebook rond soos ek maar maak en daar is ‘n boodskap van ‘n oud-mede leerling. Ons Engelse onderwyseres van ons hoërskooldae is vanoggend vroeg oorlede.

Haar kinders was saam met ons op skool en ek wil ‘n boodskap stuur. Ek is sonder die regte woorde. Hoe verduidelik jy vir iemand wat rou is van seer dat hulle ma jou lewe aangeraak het. Dat dit sý was wat jou ‘n liefde vir die Rooi taal geleer het. Wat Shakespear vir jou verstaanbaar gemaak het. Wat lekker kwaai was maar net so lekker kon lag ook. Wat ‘n sagte hart gehad het wat agter die kwaaigeit geskuil het. Wat met haar vietse lyfie diep in menige skolier se hart gekruip het. Wat menigmaal in die klas vir ‘n balhorige kind gesê het: “I will kill you dead!” En wat aanhou verduidelik het totdat almal mooi verstaan het.

Wat ek eintlik ook vir haar kinders wil sê is dat die seer beter word. Dit gaan nooit weg nie maar dit word meer draaglik. Die lag word weer meer en daar kom ‘n stadium wanneer die vreugde van dit wat was, groter word as die hartseer oor die verlies. Mooi herinneringe kan niemand van jou wegneem nie – dit sal altyd diep in jou wees; in wat jy doen, hoe jy leef en wie jy is.

My liewe Pa het eendag vir my probeer verduidelik hoe groot die leemte is wat gelaat word wanneer iemand nie meer daar is nie. Hy het gesê as jy ‘n emmer vol water neem, jou hand tot by jou elmboog in die water druk en dan die hand uittrek, die “gat” wat oorbly in die water, is hoe misbaar mens is. Hy was reg maar hy was ook verkeerd. Daar is nie ‘n gat nie. Die lewe gaan aan. Die enigste gat wat bly is die een in jou hart. Maar die gat word mettertyd vol met mooi onthou.

Iemand sê die ander dag: “Was jy al ooit op ‘n begrafnis van ‘n slegte mens?” Ek sê toe: “Nee, dis net goeie mense wat doodgaan.” Dalk is dít waar ons redding is – “beauty is in the eye of the beholder.” Die mense naaste aan die ontslapene het net die mooi raakgesien. Ons het maar almal lelik in ons en as mense net die mooi onthou van iemand wat van ons weggeneem word, is dit goed.

Die einste vriend wat gepraat het oor slegte mense sê toe as nagedagte: ‘Hoe langer my bliksem van ‘n pa dood is, hoe heiliger word hy. Hy het laventel gepoep soos ons deesdae aangaan!”

Rus in vrede Juffrou San – ons kyk met vreugde terug na die tyd wat jy jou insig en liefde vir Ingels met ons gedeel het.
essay

3 thoughts on “Juffrou San”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>