Die koppie raas

Ek kan vreeslik verstrooid wees. My voete loop in een rigting, my een hand doen iets belangriks, ek knyp ‘n telefoon teen die oor vas om iets te verduidelik aan die soms onwillige luisteraar aan die ander kant en dit terwyl iets op die stoof staan en ‘n “tap dance” uitvoer en ek probeer koffie maak met die ander hand. Ek is al die grap van die gesin – ek raak de donder in as hulle nie luister as ek praat nie maar hulle is gou om vir jou te verduidelik dat geen mens, hóé intelligent ookal, ooit kan uitmaak wat ek eintlik probeer sê nie. Want my kop raas en my gedagtes is meer verstrooid as ‘n verkleurmannetjie in ‘n smartiekboks. Ek kan nie optimaal funksioneer as ek nie met ten minste drie dinge op ‘n slag besig is nie.

So het ek al ‘n sluk gevat van verfwater op my werkstafel. En die kwas in die koffie gedruk. Ek los gedurig deure oop want ek gaan mos weer terugkom en aangaan waarmee ek besig was voordat my aandag weer afgelei is. Wat tot die gevolg het dat wind en weer en reën al sy tol geëis het met menige projekte. Of ek begin met die beste voornemens kosmaak – iets wat ek met mag en mening verafsku – en dan lui die foon. Die oproep lei my gewoonlik uit die kombuis uit en kort voor lank is my kop alweer op ‘n ander onderwerp. Gelukkig is my familie nie vol fiemies nie, alhoewel ek glo dat hulle monde water wanneer hulle prentjies van “masterchef”-kwaliteit kos raaksien.

Ek maak gedurig lysies. En dan soek ek die lysies. En so maak ek nuwe lysies. Wat ook weer soek raak. My gesprekke is ‘n beproewing. My mond doen een ding en my brein heeltemal sy eie, ander ding.

Kaitlin som dit die beste op: “Liefie, kyk gou… bring die… en dan… “ En as sy nie doen wat ek dink ek haar gevra het nie, sê ek: “Hoekom luister jy nie as ek praat nie?”

Dis ‘n bose kringloop en ek dink my grafskrif moet lees: “Hier rus Meraai. Sy het links gewys en regs gedraai.”

One thought on “Die koppie raas”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>