Tegnologie

Ek geniet Facebook. Nooit het ek gedink dat “cyberspace” vir my so ‘n bekoring sou inhou nie en dat ek, ten spyte van my tegnologiese gestremdheid, dit só sou geniet nie. Mense wat eens op ‘n tyd ‘n deel was van my lewe word nou weer deel van my lewe. Ek hoef nie meer self te onthou wanneer wie verjaar nie – Facebook doen dit vir my en kan ek elke keer wanneer ek iemand geluk gewens het, myself op die skouer klop dat “ek tog onthou het!”

Soos wat die tyd aanstap, leer ek nuwe mense ook ken. Lees van hulle vreugdes, blydskappe, swaarkry en kry ‘n blikkie in hulle alledaagse lewens. Mense uit die verre verlede doem gereeld op en dis tog te lekker om my te verkyk aan waar hulle hulle in die wêreld bevind en waarmee hulle hulle besig hou. Hartsmense wat nou baie ver bly kuier gereeld in ons huis en ek huil en lag saam met hulle.

Só lees ek die ander dag van ‘n man wat sy vrou se lof besing. Hulle het hulle 30ste huweliksherdenking gevier en hy beskryf haar in die ongelooflikste mooi taal en vergelyk haar met ikone wat almal ‘n allemintige impak op die mensdom gehad het. Dis só mooi om dit te lees en ek verlustig my daarin dat die man amper meer verlief klink op sy vrou as 30 jaar gelede toe hulle getroud is!

‘n Oud-kollega herinner my aan ‘n gekruide opmerking wat ek by ‘n vreeslike fancy dinee jare gelede gemaak het. Ek het dit al vergeet maar hy het onthou. Facebook het ook gemaak dat ek weer drade opgetel het met lank gelede se kollegas en elke keer wanneer iemand iets “post”, vlam daar weer iets in die ou geheue op en dan onthou ek weer.

Ek lees van iemand wat na haar kinders verlang. Hulle bly ver en haar ou moederhart is seer. Mense wat lyk of hulle nooit werk nie want as jy sien, “post” hulle vakansiefoto’s!

So spoor ek gedurig webadresse op met die mooiste goeters. Klere, juwele, meubels, vakansieplekke, tuine, huise, skilderye en hope ander goed. Ek het eintlik te min ure in my dag want ek het hierdie allesoorheersende behoefte om my lewe te verryk en my horisonne te verbreed.

Toe die kinders klein was, was my standaard antwoord wanneer hulle my iets vra en ek nie weet nie: “Bel vir Oupa.” Oupa was ‘n wandelende ensiklopedie. Nou is Oupa nie meer met ons nie en my standaard antwoord is: “Google dit.”

Ek lief Facebook. Ek lief die internet. Ek lief Google. En ek raak al hoe minder tegnologies gestremd!

One thought on “Tegnologie”

  1. Ag vriendin, ek doen nog nie Facebook maar ek kon darem op jou website in kom. Jy is AMAZING. Lovies Ko
    Ps Keep walking Meraai!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>