Miere en voorregte

Vanoggend is weer een van daai oggende waar ‘n oproep dinge weer in perspektief sit. Dit het eintlik Sondagaand al begin. Ons sit met ‘n mierprobleem in Kaitlin se kamer en in die woonstel ook. Ons spuit versigtig want so bly daar ‘n kolonie gecko’s ook in die dak en ek lief die ou diertjies. Heerlik om te sien hoe hulle van piepklein en amper deurskynend verander in ronde, vet mosgroen gediertetjies, dik gevreet aan al die ander dingetjies in die dak.

Sondagaand lê daar weer ‘n hoop miere en hulle eiertjies op Kaitlin se bed. Ons spuit verwoed. Alles. Deken, lakens, duvet, alles. Wasmasjien toe en so trek Kaitlin in Cézanne se kamer in. Cézanne bly nou in haar eie woonstel en die kamer is dus beskikbaar. Ons het ‘n heel rustige nag.

Gisteraand, so teen 11 uur, groet Kaitlin en keer bedwaarts. Pappa lê al en slaap en ek kom stuur gou ‘n paar e-posse. Die huis is doodstil – die miere ook. Die volgende oomblik vlieg Kaitlin by my in die studeerkamer in met oë groter as die vetste gecko in die huis. “DAAR IS ‘N VLERMUIS IN MY KAMER!!!” “Is jy seker dis nie ‘n mot nie?” vra ek, nie lus vir drama nie. “Dan is dit ‘n moerse groot mot maar ek het nog nooit so ‘n groot mot in my lewe gesien nie, dis ‘n vlermuis. Ek sê vir ma.” Dit is toe ‘n vlermuis. Nodeloos om te sê, sussie sien nie kans vir die moontlikheid van ‘n skermutseling met ‘n vlermuis nie en so trek sy in die spaarkamer in. En onthou, hier is nie ‘n bediende nie – EK moet al die ou wasgoedjies was.

Vanoggend is my moed toe in my skoene oor al die beddegoed wat vir my wag en ek maak dadelik kontak met iemand wat weet van miere en vlermuise verwyder. En so kry ek die “whatsapp” van ‘n vriend oor ‘n Oosterse babatjie wat ‘n suurlemoenskyfie te ete kry. Ek lag so en besluit om te bel om dankie te sê dat dit my dag opgebeur het. Die vriend het ‘n stukkende hart. ‘n Jarelange vriendin van hom is gediagnoseer met klierkanker en beenmurgkanker. En sy wil nie vir chemo gaan nie. Ek probeer om te verduidelik dat ek nogal begrip het vir haar keuse. Sy is siek maar kan daarmee “cope”. Chemo gaan haar baie sieker maak en dalk is haar keuse om die tyd wat sy oorhet, so mooi as moontlik en so sag as moontlik te geniet met haar geliefdes. Sy is siek. Punt. Haar keuse is dus om haarself nie nóg sieker te maak as wat sy reeds is nie en dus so die beste van haar tyd te maak. Hóé moeilik dit ookal vir hom is, hy moet probeer berus by haar besluit.

My vriend sê dankie en ek besef dat my miere en vlermuis eintlik nietig is in die groter prentjie. En dat ek elke dag dankbaar moet wees oor al die genade wat ek so mildelik ontvang.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>