Die ouderdom

Die blêrrie ouderdom. Dis waaragtag nie vir sissies nie!

Jare gelede, toe my Pa so ‘n bietjie ouer was as wat ek nou is, kla hy by sy swaer, my oom, dat dit darem ‘n gedoente is elke oggend om uit die bed te kom. “As jy een oggend opstaan en jy het nêrens ‘n pyn nie, moet jy weet jy is laasnag oorlede” seg my oom toe. Dus staan ek elke oggend op, met ‘n diepe dankbaarheid gevul vir elke pyn wat ek kan voel.

Dit vat my so ‘n rukkie om aan die gang te kom en die oë neem ook so ‘n wyle om reg te fokus, bril en al en dan spring die dag met ‘n helse vaart weg. Ek moet mooi hol om by te bly!

Alles gaan nie te vrot nie, totdat ek moet grimeer. (Let wel, die klem lê op “moet” want lank vergete is die dae wat ek dit sonder grimering buite die poorte van hierdie of enige ander huis gewaag het!) Die probleem is nie die grimeer self nie; ek kan nie sonder die bril sien nie. En ek kan nie grimeer met die bril aan nie. Ek het nou al na kontaklense oorgeskakel maar dit skep weer probleme van sy eie. Ek kan nie vêr sien nie en naby sien, glad nie. Dis mos waar die naam “bi-focal” vandaan kom – met die boonste gedeelte van die bril sien jy “baie” en met die onderste gedeelte “fôkkol.” Ek het dus ‘n linkeroog met ‘n lens in vir naby sien en ‘n regteroog met ‘n lens in vir vêr sien. My arme brein sukkel nog steeds om te weet watter oog se sein hy wanneer moet gebruik. Dus ‘n babelse verwarring elke keer wanneer ek die kontaklense dra.

Maar ek dwaal af. Ek het agtergekom dis eintlik makliker om net die bril te dra – altwee oë kyk gelyktydig waar en wanneer hulle moet en my brein kan fokus op dít wat belangrik is. Wat beteken ek doen my grimering sonder dat ek mooi kan sien. En dit wat ek sien, lyk vir my mooi. Eintlik lyk ek beeldskoon – so wasig en sonder ‘n plooi! Totdat ek die bril opsit. Liewe hel, ek skrik my elke oggend oor ‘n mik. Dan moet ek probeer om herstelwerk te doen met die bril op.

Maar ek is darem dankbaar. Dankbaar vir oë en pyne. Dis ‘n bewys dat ek darem nog leef. Ek dink ook ek weet hoekom mense Alzheimers kry en hoekom jou sig gaan met die ouderdom – dis sodat jy nie kan onthou jy het ooit beter gelyk nie en sodat jy nie die verval kan sien nie.

En dan lag ek so in my binneste oor die ouer vrou wat so ‘n wyle gelede vir my gesê het: “Die ouderdom is ‘n bliksem. Eers maak hy jou lelik en dan maak hy jou dood!”
essay