Ongelukke gebeur

In 2008 gaan kuier ons vir liewe vriende van ons in ‘n land waar mense borde breek wanneer hulle “happy” is. Ons kuier verwoed en die kinders speel ‘n storm los. Die een Pajama-koffie na die ander word op die stoep gedrink, kitsoplossings vir die wêreld se probleme word gevind en ons poog om verlore tyd in te haal en op te maak vir die maer tye wat voorlê.
Die tweede laaste dag van die kuier, is dit die jongste se verjaarsdag. ‘n Vrydag. Die volgende dag is haar 4e verjaarsdagpartytjie en ons vlieg weer die Sondag. Ek en Liefie besluit om hulle ma ‘n “af” middag te gee terwyl ons ‘n lekker lang ent met die kinders gaan stap. Daar is 3 fietse tussen die 4 van hulle en die 3 oudstes onderneem om beurte te maak met 2 van die fietse. So gesê, so gedaan.
So stap ons. Heuwels op en heuwels af. Op ‘n stadium stap Kaitlin en haar Pa terwyl die twee oudste maatjies ry. Die kleintjie, die verjaarsdagmaatjie, ry op haar fietsie. Ek stap saam met haar en hou my hand teenaan die sitplek want sy is nog bietjie onvas op die wieletjies. So kom ons by ‘n ernstige afdraende. Ek vra haar om liewer van die fietsie af te klim want ek is skrikkerig dat sy dalk beheer gaan verloor so met die versnelling saam. Haar antwoord aan my was om skielik te trap en onder my hand uit te gly.
Daar gaat sy! Ek skrik my eers flou en toe skop die adrenalien in. Ek besef hier kom groot bollie. Want, die pad maak ‘n negentig grade na regs en op daai draai is daar ‘n huis wat teen ‘n krans gebou word. Dus gaan sy haar óf teen die huis te pletter ry of sy gaan oor die krans vlieg. Ek begin hardloop. Duncan sê hy het besef hier is groot moeilikheid want dis die eerste keer in sy lewe wat hy my sien hardloop. Ek hol al skreeuende by hulle verby en probeer die kleintjie inhaal. Dié trap net al hoe harder. Ousus en ouboet hoor die geskree en gaan stop onder in die draai. Hierdie gebeur binne sekondes maar voel soos ure. My lewe flits voor my verby en sommer al die ander s’n ook. Ek besef daar is geen manier dat almal van ons heelhuids uit dié petalje gaan kom nie. Ek dink die Liewe Vader het ook gesukkel om my skietgebede te verstaan – ek het gesukkel om gelyktydig te hol en te bid.
Ousus besef wat aangaan. Sy spring van haar fiets af en gaan staan soos ‘n wafferse rugbyspeler en wag haar sussie in. Ouboet gooi sý fiets neer en kies die hasepad. En kleinsus tel spoed op. Die volgende oomblik tref die kleintjie haar sus. Met ‘n slag waarvan ek die klank nie kan beskryf nie. En dis net bloed waar jy kyk. Ek is binne sekondes daar met Duncan ‘n kort-kop agter my. Kaitlin skree net.
Kleintjie skree sy kry nie asem nie. Ek sukkel om haar neus in haar gesiggie raak te sien so tussen die bloed deur. Ousus lê op die naat van haar rug en die bloed stroom uit ‘n wond op haar skeen. Dis chaos. Ek beveel die kleintjie om deur haar mond asem te haal en vir Duncan en Kaitlin om aan ousus aandag te gee.
Die volgende oomblik stop liefste vriendin gelukkig daar met die kar. Ouboet het vir Ma gaan roep toe hy besef hier is moeilikheid. Ek klim met die twee gewondes in die kar saam met hulle Ma en Duncan, Kaitlin en ouboet stoot dit wat oor is van die fietse, huis toe. Dis ‘n kakofonies lawaai in die kar – kinders skree, ek huil en vriendin probeer uitvind wat gebeur het. By die huis spoel ons die ergste van die bloed af en kry almal in orde vir die tog hospitaal toe.
Laat die aand is die familie terug by die huis. Ousus met steke in die beenwond en kleinsus se gebreekte neus met so ‘n groot wit pleister op, die ogies toegeswel en potblou. En sy haal deur haar mond asem. Sy lyk soos Rocky Balboa na ‘n helse uitklopslag.
Haar verjaarsdagpartytjie was vir my ‘n nagmerrie – julle kan julle die kommentaar voorstel. Elke keer wanneer daar ‘n kleintjie in die verte skree, vra almal waar ek is!

Die Ier

In 2005 is my peetkind gebore. Die langverwagte mannetjie het op 17 Januarie sy verskyning gemaak; presies 98 jaar ná my ouma Käthe se geboorte. Soos die Voortrekkers van ouds is ons die vreemde in om hierdie wonderwerkie te gaan beskou en bekwyl. Hy was kleiner as piepklein en ek het hom een kyk gegee en aan die bewe gegaan. Hoe de hel maak jy so ‘n klein mensie groot? Maar ek het nie rekening gehou met sy Pa en Ma se hardegatgeit en deursettingsvermoë nie en vandag is hy die liefste, dierbare, oulikste, mooiste, slimste (ja ek weet ek is bevooroordeeld!) seuntjie. En sy tannie se hart se punt.

Eintlik gaan my storie nie oor hom nie maar oor sy liewe Pa. Dié is ‘n opregte Ier – gebore en getoë in Killarney, Ierland. ‘n Ekstrovert van formaat en iemand wat nog eendag die Pous gaan oortuig hy is eintlik ‘n Jood. ‘n Hart soos ‘n hotel en die enigste Ier wat ek van weet wat geen druppel alkohol ooit oor sy lippe laat gaan nie. Ek verstaan hom net wanneer ek voor hom sit of staan en na sy lippe kyk as hy praat. Oor ‘n telefoon klink ek soos die spreekwoordelike “village idiot” en is ons gesprekke uiters eensydig en baie niksseggend. Hy het egter in ons Coetzee’s se harte gekruip om daar te bly.

Ewenwel, soos ek gesê het is ons daar na hulle toe in Sandland toe Mannetjie gebore is. Swaer kom my haal by die lughawe en ek het nog skaars my voete uit die lughawegebou gesit toe word ek vertel dat ons eers ‘n draai gaan maak daar waar ‘n mens tydelike bestuurslisensies kry. Sus het ‘n keisersnit gehad en dit was dus moeilik vir haar om te bestuur en ek sou die amptelike rondkarweier vir haar en die res word. Dit was ‘n vreesaanjaende gedagte – alles is andersom as hier by ons. Ek was papnat gesweet teen die tyd wat ons by die lisensieplek aangekom het en dit was nie as gevolg van die hitte nie. So kry ek binne ‘n halfuur ‘n tydelike lisensie. Ek was eintlik teleurgesteld dat hulle so effektief funksioneer. Het so in die stillegeit gehoop dat my oë of iets my gaan diskwalifiseer om die blêrrie lisensie te kry.

Terug by die kar word ek aangesê om agter die stuurwiel in te klim. Ek was bang ek gaan níé dood nie! Ek kry ‘n vinnige les in die basiese en word vertel dat “yield to the right’ nie hier van toepassing is nie; “Yield to SIZE” wel. Afgesien daarvan dat omtrent driekwart van die bevolking daardie dag gekies het om op die pad te wees en dat almal probeer het om ons die Ewigheid in te help, het dinge nie te vrot gegaan nie. Tot by die laaste minisirkel so ‘n kilometer van hulle huis af. Ek het die hele tyd vir myself geprewel: “Hou regs. Hou regs. Hou regs…” Die gesprek tussen my en Swaer was ook een wat geen mens kan oorvertel nie want nie een van ons het dit verstaan nie. So benader ek die minisirkel. Met die “hou regs” in gedagte. En toe draai ek links om die sirkel maar darem in die REGTERBAAN.

Swaer gil: “Where de fook are you going?”
“I am keeping RIGHT!” skree ek terug.
“IT IS DE FOOKING RRONG RRIGHT!” gil hy weer vir my.

Dis tóé dat ek sommer oor die middel van die sirkel ry om weer veilig aan die anderkant in die regterbaan te land. Ek dink daar is nou nog ‘n paar Arabiere wat my my kundigheid en vernuf beny!

Nodeloos om te sê, Sus het ons maar met haar “wond” rondgekarwei vir die res van ons kuier.
essay writing service