Vakansies en misverstande

Nadat my liewe Pa afgetree het, het hy en liewe Ma ‘n karavaan gekoop. En ernstig begin om ons erfgeld uit te gee. As jy weer hoor, is hulle oppad êrens heen vir ‘n laaaaang tyd. Hulle het die wêreld plat getoer en dinge gesien en beleef waarvan die meeste mense nie eers droom nie.

Hulle het professionele inpakkers en kampopslaners geword. Elkeen het presies geweet wat om wanneer te doen en hulle vakansies het gewoonlik op ge-oliede wiele verloop.

So kuier hulle ‘n slag weer in die Wildtuin. Vir ‘n laaaaang tyd. Sommer ‘n hele klomp nagte op ‘n plek en ons kry gereeld verslag van hulle doen en late.

Een van die kampe waar hulle was, het baie ou, groot bome. Met wortels wat op onmoontlike plekke bo-gronds verskyn. Dis ‘n kamper se ergste nagmerrie want om ‘n ordentlike staanplek te kry wanneer jy vir wortels moet koes, is ‘n groot storie. En dan moet julle onthou, gewoonlik het man en vrou verskillende idees van waar die karavaan moet staan. Ligging, ligging, ligging! Die karavaan kry dus gewoonlik sy staan net voor daar ernstige huismoles uitbreek. Einste Pa en Ma se karavaan het darem sy staan so tussen die wortels gekry en beide was tevrede met die ligging.

Een dag is dit weer tyd om in te pak en te vertrek na die volgende staanplek. Alles is opgeslaan en weggepak en nou lê die haak van die karavaan voor. Pa klim in die Kombi en “reverse” hom tot so naby moontlik aan die karavaan se haak. Dan moet daar saamgewerk word om die karavaan te stoot sodat sy haak oor die kar se sleepstang haak en alles vasgemaak kan word. Daar word beraadslaag en besluit dat Ma van agter af sal stoot terwyl Pa van voor af sal trek. So gesê, so gedaan.

‘n Rukkie later, wonder Pa waar draai Ma so lank. Hy vermoed sy het intussen badkamer toe gegaan vir die laaste piepie voor hulle die lang pad aandurf. Hy wag maar. En hy wag. Ma kom nie terug nie. Hy besluit toe maar om te stap en haar te gaan aanjaag. Dis toe hy so by die agterkant van die karavaan verbystap dat hy vir Ma sien. Sy is papnat gesweet en bloedrooi in die gesig soos sy nog steeds die karavaan stoot sodat Pa die koppeling kan doen!
essay

Prestasies en dinge

Ons hoërskool was verlede jaar 40 jaar oud. So ‘n jaar voor die GROOT FUNKSIE word daar wyd en syd e-posse uitgestuur, Facebook word ingespan om almal wat nog leef te probeer opspoor en ‘n groot opgewondenheid pak die meeste beet om weer ou vrinne te sien of te sien of die mooies van skooltyd nog so mooi is en of die lelikes darem ‘n “innings” gekry het.

Daar land ‘n e-pos op my rekenaar van die skool af. Net om te verduidelik watter formaat die verrigtinge gaan aanneem en ‘n “alumni vraelys” om asseblief tog al ons inligting op datum te bring. Dit was nogal maklik – ek en Duncan was beide in die skool en ek stuur dus een namens hom ook. Daar is egter ‘n vraag wat ek maar oopgelos het by gebrek aan inligting. Die vraag was: “Watter prestasies het jy na matriek bereik?”

Dis net hier waar ek toe vashaak. Ek was vir lank voltyds ma. Is nog steeds want die laaste kuiken is nou in matriek. Ek het darem intussen my eie klein besigheidjie begin en ek doen nie te sleg nie. Ek kan redelik goed kar bestuur – dis wat my “track record” sê. Ek kan tuinmaak hoewel ek nie noodwendig daarvan hou nie. Ek kan goed kosmaak alhoewel ek dit haat, ek kan naaldwerk doen, ek kan wasgoed was en stryk, ek bestuur al ons geldsake, doen internetbetalings, “run” ‘n groot huishouding, kan bed opmaak, lees baie, kan ‘n elektriese prop regmaak, kan ‘n gloeilamp omruil en selfs ‘n redelike intelligente gesprek voer as dit moet. My hande staan vir min verkeerd, ek grimeer gereeld bruide en matrieks en kan naels ook “doen’ – akriel en gel! Ek kan ‘n gat boor sonder dat al die pleister afkom en ek skiet beter teiken as my man. My kinders is nogal heel oulik en ek het hulle grootgekry sonder dat ek in die tronk beland het vir poging tot moord. Ek probeer om ‘n goeie ma, vrou, dogter, suster en vriendin te wees. kortom, ek is ‘n “Jack of all trades” en ‘n “Master of None.”

Ek sal nooit Staatspresident of hoof van ‘n skool wees nie. Ook nie ‘n briljante hartchirurg of ‘n Professor van formaat nie. Maak dit my minder suksesvol as iemand wat dit wel is? Wat is sukses? Of wanneer is ‘n prestasie ‘n prestasie? Wie besluit iemand se prestasies is groter of beter as ‘n ander s’n? Hoekom word iemand wat baie van een onderwerp weet, meer suksesvol beskou as iemand wat iets van baie dinge weet? Ek wonder maar net.

Solank my mense my eendag onthou as iemand wat gelééf het, ploeter ek maar voort in my prestasielose bestaan!